Rosalita

Daar is ‘n klein plekkie in die hartjie van Pretoria, knus geleë tussen winkeltjies en groen. Jy stap met trappies na bo waar die plekkie jou in rus en afwagting sit en inwag.  Vanaf die balkonnetjie aan die einde van die trappe sien jy die ontluikende kleure van die nuwe seisoen in die kwekery onder, skuins na regs.  Die asemrowende lewe wat net die lente kan aankondig verwelkom jou. Jy aanskou die menigte voete wat onder oppad is na vele plekke en wil-wil dink daar is nog baie om te sien in die eksentrieke samekoms van winkeltjies.  Tot jy jouself na regs wend en ‘n fees van kleure op lap en geure van lafenisse jou soos ‘n broodnodige oase begroet.  Jy word verras, jou asem word weggeslaan.  Hier wil jy wees.  By Rosalita.

Die pragtige kleure en geure is egter nie wat jou laat welkom voel nie. Wel die glimlagte op skoner-geslag gesigte wat jou innooi, glimlagte wat spreek van krag wat net hul oorsprong in God se vreugde vind.  Glimlagte wat sê:  “Kom in, kom tot rus, maar kom ook tot lewe.  Ons is opreg verheug dat jy hier is.”  Dit geld vir almal, nuut en bekend.  Jy is familie van die oomblik dat jou voete die plekkie ingaan, of jy nou wil of nie.  Sommige dinge word vir jou gekies en dis ook goed so.  Want hier is al die oneindige mooi te veel om van te kies.  Die mooi bly jou by baie lank nadat jy van daar af weg is.  Die mooi raak jou hart en maak dat jy wil terugkeer, weer en weer.  Die mooi omsluit jou van alle kante.  Die mooi is ‘n fees wat jou naderwink om aan te sluit.

Die mooi sluit natuurlik die allerpragtigste klere in. Klere wat keurig ontwerp en gemaak word deur Talita en haar man en bekendgestel word deur Nellie.  Trots Suid-Afrikaans, met die hand gemaak.  Liefde is inderdaad ook hart uitgestort op lap, kuns sagkens en stylvol gedrapeer om vroue-lywe.  Kleure kom tot hul reg in unieke teksture en kombinasies.  Elke kledingstuk is sinvol en weldeurdag ontwerp met alle groottes en vorms in die oog.  Hier word verstaan dat klere deel is van menigte vrou se menswees.  Hier word jou behoefte om dikwels daardie onuitspreeklike versugtinge van jou hart deur klere bekend te maak, begryp.  Hier word jy sagkens in die oë gekyk sodat die mees gepaste kledingstuk vir jou aanbeveel word.  Hier word jy versorg.

Jy ervaar aan jou lyf en hart dat hierdie plekkie nie soos enige ander klerewinkel is waar jy al ooit voorheen was nie. Dit word gekenmerk deur lag en lewe.  Die plekkie en sy mense trek jou heel gepas op na waar hulle is, na plekke verhewe bo die gewone.  Kyk verder as die klein spasie van hierdie winkeltjie en jy sien massiewe grondgebied raak.  Spits jou ore en hoor die frekwensie van stemme wat lewe spreek.  Neem die reuke in en laat toe dat jy meegevoer raak na al die plekke waarheen dit versprei.  Neem die tyd om dieper in die oë te kyk van die mense wat die plekkie al vir jare lank bou en jy sien Goddelike inspirasie raak.  Hy uit wie se hand alles kom wat mooi is, is die hart van alles wat hier geskep en gepraat word.  Maak oop jou hart en ervaar hoe jy hier op ‘n diepgaande wyse geïnspireer word.  Want hier het jy met mense te doen wat met uitgestrekte arms en oop hande gereed staan om te ontvang dít wat God hul wil gee.  Mense wat die prag, kleurvolheid en veelsydigheid van God op bonatuurlike wyse bymekaar weef in klere.  Mense wat lewens aanraak deur prag in dit in te bring.  Mense van seën.  Klere van seën.  Mense en klere uit God se beeldskone hart.

Dis die begin van ‘n nuwe seisoen, ook vir Rosalita in haar nuwe plekkie. Lewe wat lank gesluimer het wil oral uit sy nate bars, energie bewend onder die oppervlak.  Die wêreld is honger vir nuwe hoop, smagtend na prag.  Hier gaan jy dit vind, die prag wat inspireer en bybly.  Die prag wat van jou ‘n beter mens maak sodat jy ook daardie prag wil versprei na almal om jou.  Die prag wat jou seën sodat jy ‘n seën vir ander kan wees.  Dit is die hart van Rosalita.  Die mooi klere is net ‘n bonus.  Hier wil jy beslis wees.

 

“En U het haar hart getrou gevind voor u aangesig, en U het met haar ‘n verbond gesluit om die land te gee… Om dit aan haar nageslag te gee;  en U het u woorde vervul, want U is regverdig.”  Neh 9:8

 

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s